Article

Boedelbeplanning: Die verskuilde belasting wat later sy verskyning kan maak.

“Ek kan dit nie bekostig om te sterf nie; ek sal te veel geld verloor.” (George Burns, komediant.)

Die kern van enige boedelplan is jou testament. As jy dit koppel aan ‘n lêer wat al die nodige inligting en dokumente bevat wat jou eksekuteur en erfgename gaan benodig om die boedel af te handel, lê jy ’n stewige fondament om jou geliefdes van hulp te wees vir wanneer jy self nie meer daar is nie.

Hopelik het die meeste van ons reeds hierdie twee noodsaaklikhede op ons doenlysie afgemerk. Daar is ‘n derde stap wat dikwels nie die nodige aandag kry nie: beplanning vir die kostes wat jou boedel sal moet voorsien, insluitend verskeie moontlike belastings.

Soos met alles waar SARS en belasting ter sprake is, is daar voorgeskrewe vereistes en grys areas betrokke. Ons bied hiermee algemene riglyne wat nie ‘n plaasvervanger vir professionele en toegepaste belastingadvies is nie.

Die kostes waarvoor jy moet beplan

Koste: ‘n Kernaspek van jou boedelbeplanning is om te verstaan hoeveel elke erfgenaam werklik uit jou boedel sal ontvang ná voorsiening van kostes en uitgawes. Die belangrikste kostes en uitgawes is gewoonlik eksekuteursfooie en regeringsbelasting.

Belasting: Daar is twee hoofbelastings om met ‘n boedel in ag te neem: boedelbelasting en kapitaalwinsbelasting (KWB). In hierdie artikel fokus ons op die KWB-aspek. Dit word dikwels vergeet en ook dikwels misverstaan.

KWB: Die belasting wat in ‘n hinderlaag kan wag

Kapitaalwinsbelasting is ‘n laeprofiel-belasting. Dit kan vir jare ignoreer word omdat dit nie van toepassing is nie, totdat een of ander transaksie dit skielik van toepassing maak, wat jou gebruiklike finansiële voorsiening vir belasting uitgooi.

In hierdie geval sal die “transaksie” plaasvind wanneer jy self nie meer daar is om dit te hanteer nie. KWB word deur ‘n belastingbetaler se dood meegebring, wat volgens SARS ‘n “geagte beskikking” (“deemed disposal”) uitmaak. Met ander woorde, volgens SARS word jou bates geag teen markwaarde verkoop te wees op die dag van jou dood. In beginsel skep dit ‘n belastingaanspreeklikheid vir jou boedel op die waardegroei van die bates sedert jy dit aanvanklik verkry het – die kapitaalwins.

Voordat ons verder in hierdie moontlike belastingaanspreeklikheid delf, deel ons eers goeie nuus wat hier relevant is.

Die goeie nuus: Hier is wel drie groot uitsluitings, soos met die 2026 Begroting verder versterk

In die eerste plek: Daar is geen KWB betaalbaar op “persoonlike gebruiksbates”, aftreefondsvoordele en die meeste hoofstroomlewenspolisse nie.

In die tweede plek: Ons het die voordeel van die sogenaamde “gade-oordragverligting” (“spousal rollover relief”). Dit bring mee dat aanspreeklikheid vir KWB op bates wat aan jou gade nagelaat word, “oorgerol” word sodat dit nie deur jou boedel betaal hoef te word nie, maar eers later hanteer word, deur jou gade self (wanneer jou gade die bate verkoop) of deur jou gade se boedel (wanneer jou gade dan tot sterwe kom). Dit kan natuurlik ‘n groot praktiese verskil maak met jou beplanning om te verseker dat jou gade finansieel versorg is.

In die derde plek: SARS maak voorsiening vir ‘n verhoogde jaarlikse uitsluiting in die belastingjaar waarin jy tot sterwe kom, die uitsluiting vir jou primêre woning en die uitsluiting vir wanneer jy jou klein besigheid verkoop – hierdie drie uitsluitings kan die toepaslike Kapitaalwinsbelasting aansienlik verminder. Soos wat ons hieronder uitwys, is elkeen van hierdie drie uitsluitingsperke met die Begrotingsrede van 2026 verhoog. Dit is goeie nuus!

  1. Jaarlikse uitsluiting in die jaar van afsterwe: Indien jy enige van jou kapitale bates gedurende jou leeftyd verkoop, word jou KWB-aanspreeklikheid verminder met ‘n jaarlikse uitsluiting van R50 000 (dit was voorheen R40 000). In die jaar van jou afsterwe word hierdie uitsluiting nou verhoog tot R440 000 (dit was voorheen R300 000).
  2. Die uitsluiting vir jou primêre woning: Dit bied darem verligting vir eiendomseienaars met betrekking tot hul “primêre woning” (die huis waarin jy gewoonlik woon). Die uitsluiting van die eerste gedeelte van die kapitale wins met die verkoop van jou “primêre woning” is nou verhoog van R2 000 000 tot R3 000 000.
  3. Die uitsluiting as dit kom by die verkoop van klein besighede se bates: Indien jy ‘n klein besigheid met ‘n markwaarde van tot R15 000 000 (voorheen was dit R10 000 000) nalaat, kan jou boedel kwalifiseer vir ‘n uitsluiting van R2 700 000 (voorheen was dit R1 800 000) op die bates van die besigheid, wat geag word verkoop te wees op die dag van jou afsterwe. Vele klein besighede sal ook kwalifiseer vir waardevermindering op van die bates wat in die besigheid gebruik word. Om dit akkuraat te bereken, verg professionele bystand van jou belastingpraktisyn.

Hoe om KWB te bereken

Ons kyk na ‘n berekening van Kapitaalwinsbelasting wat vir jou ‘n rowwe idee van die moontlike belastingverpligting gaan gee, sodat jy daarvoor kan beplan en voorsien:

  • Sluit al jou bates (behalwe dié wat hierbo uitgesluit is van KWB) teen hul huidige markwaarde in.
  • Trek die basiskoste van elke bate af; dit is die bedrag waarvoor jy die bate aangekoop het plus toelaatbare koste soos verkrygingskoste en die koste van daaropvolgende kapitale verbeteringe.
  • Bereken die kapitaalwins of -verlies deur die basiskoste van die markwaarde af te trek.
  • Trek alle uitsluitings van die kapitaalwins af om die netto kapitaalwins te bereken.
  • Vermenigvuldig die netto kapitaalwins met die 40% insluitingskoers om die belasbare kapitaalwins te kry.
  • Gebruik jou marginale belastingkoers op jou jaarlikse inkomste op die belasbare kapitaalwins om die finale belastingverpligting wat jy as gevolg van die kapitaalwins moet voorsien, te bereken.

Om ‘n omvattende boedelplan saam te stel, geanker deur jou testament, is ‘n noodsaaklike stap om te verseker dat jou geliefdes behoorlik versorg word as jy nie meer hier is nie. Jy weet wie om te kontak indien jy hulp nodig het!